Een van die grondbeginsels van die okkulte is: “As above, so below”. Dit vind weerga in die Onse Vader gebed met “Soos in die Hemel, so ook op die aarde”. Dit is eintlik ’n oeroue geestelike beginsel wat leer dat die fisiese sy eweknie in die geestelike het en andersom.
Dit het my laat dink dat God eintlik baie wonderliker werk as wat ons ooit kan dink. Dit moes seker ’n Amerikaner gewees het wat dit gesê het maar ek onthou dat ek al gehoor het iemand sê: “God is supernaturally natural and naturally supernatural”. Ons groot probleem is om geestelike waarhede te verstaan en God se probleem is om dit te verduidelik. Hoe verduidelik jy aan iemand wat blind gebore is hoe lyk blou? Ons verwarring is duidelik in al ons dogma sigbaar! Tog sê die Bybel dat God deur sy skepping duidelik geken en verstaan kan word.
So reken ek toe dat God nooit voorbeelde gebruik om geestelike waarhede aan ons te verduidelik nie. Hy gaan ’n stap verder deur die kosmos so te skape dat dit een groot praktiese preek word. Om te verduidelik:
God vergelyk homself nie met die son, of water nie. Hy rig die skepping so in dat ons iets van hom daardeur kan verstaan. Die son is die middelpunt van ons sonnestelsel. Dit gee lig, lewe, hitte, energie en hou alles bymekaar. Die ganse aarde en elke lewende organisme is van water afhanklik. Met dit in gedagte sê God dan dat hy die Son van geregtigheid en die water van die lewe is. Ander voorbeelde is volop – ’n saad kan nie groei as dit nie in die grond val en sterf nie. Net dit wat die mens saai, sal die mens maai. Ongeag jou godsdienstige oortuigings blyk die natuurwette ook waar te wees as geestelike wette. ’n Mens sou selfs kon spekuleer dat die natuurwette afbeeldings is van geestelike wette.
No comments:
Post a Comment